Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – SONDAG 4 April 2010

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met ’n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web by www.sarl.org.za. Klik op "ARMI" en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZSOJPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat die heengaan van John Bastiaans, ZS4ABQ, op 29 Maart 2010 aangekondig moet word. Ons betuig ons innige meegevoel met sy vrou Adela, ZS4ABR, familie en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

LAASTE GELEENTHEID OM VOORDEEL TE TREK UIT VROEЁ BESPREKING VIR DIE SA AMSAT RUIMTESIMPOSIUM

VERNUWING IN AMATEURRADIO – ’N NUWE PROJEK VAN SA AMATEURRADIO-ONTWIKKELINGSTRUST

SARL SE NASIONALE KONVENSIE BIED BAIE

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede en ander belangrike en interessante nuusitems.

LAASTE GELEENTHEID OM VOORDEEL TE TREK UIT VROEЁ BESPREKING VIR DIE SA AMSAT RUIMTESIMPOSIUM

Trek voordeel uit die laer vroeë tariewe deur hierdie week nog u plek te bespreek vir die SA AMSAT Ruimtesimposium in Durban op 17 April 2010. Die program kan afgelaai word en die registrasievorm asook ander inligting is beskikbaar by www.amsatsa.org.za.

Die Departement van Wetenskap en Tegnologie ondersteun die konferensie deur gratis toegang aan leerders en studente te bied. Die program sluit in aanbiedings oor SumbandilaSat, die twee nuwe CubeSat satellietprojekte, die Om die Węreld-ballonprojek, asook talle ander interessante fasette van satelliete en die ruimte.

VERNUWING IN AMATEURRADIO – NUWE PROJEK VAN SA AMATEURRADIO-ONTWIKKELINGSTRUST

Hier is ’n nuwe opwindende projek geborg deur die SA Amateurradio-ontwikkelingstrust (SAAROT). “Vernuwing in Amateurradio” is ’n agtienmaande-projek om vernuwing in amateurradio te stimuleer. Hannes Coetzee, ZSBZP, ’n tegnofundi en lid van die Raad van Trustees van SAAROT, stel dit so: “Amateurradio is een van die oudste en steeds die mees bevredigende van al die wetenskaplike stokperdjies, maar daar kom ’n tyd dat vernuwing, nuwe idees en nuwe tegnologieë oorweeg moet word om die aktiwiteite relevant en stimulerend te hou.”

Hannes was een van die hoofargitekte van die amateurradioloonvrag op SumbandilaSat wat tans węreldwye belangstelling onder radioamateurs wek.

Radioamateurs en tegnoloë word uitgenooi om projekte aan te bied wat amateurradio sal vernuwe. Temas sluit in sagteware, amateurradio en die Internet, die ontwikkeling van kompakte HF-antennas vir woonstelle en meenthuisinwoners, of vernuwing in noodkommunikasie.

Hannes meen verder dat vernuwing op die gebied van rampkommunikasie benodig word by hoëspoedbeeld- en data-oordrag met behulp van amateurradiotoerusting en frekwensies en integrering van netwerke wat beskikbaar is aan amateurradio.

Radioamateurs het alreeds ’n groot bydrae gemaak in die ontwikkeling van lae-aarde-wentelsatelliete en tegnologieë wat al in nywerheidsatellietprojekte gebruik word. Hannes glo dat daar groot geleenthede is vir vernuwing met die ontwikkeling van loonvragte wat oud en jonk sal wil laat meedoen aan die wetenskaplike en tegnologiese gemeenskap.

Radioamateurs gaan vorendag moet kom met uitsonderlike idees om sommige van die probleme en uitdagings van die 21ste eeu te bowe te kom. Die vernuwingsprojek geskied in die vorm van ’n kompetisie wat daarop gemik is om die kreatiwiteit van amateurs te stimuleer om vorendag te kom met oplossings om die stokperdjie selfs meer genotvol te maak vir amateurs węreldwyd. Selfs ouer idees wat met moderne ontwerptegnieke en komponente verbeter kan word, kan tot groot bevrediging lei. Voorgestelde oplossings sal beoordeel word op grond van hul uniekheid, byvoorbeeld dat die voorstelle nie vantevore gepubliseer was nie.

Ontwerpbeskrywings moet teen 30 September ingehandig word. Die ontwerpe moet vernuwend wees en prakties toegepas kan word. Drie inskrywings sal gekies word vir die finale fase van die kompetisie, wat die ontwikkeling en bou van ’n prototipe sal vereis.

Multisource ondersteun die vernuwingskompetisie deur ’n ICOM7000 HF-senderontvanger te skenk as hoofprys vir die algehele wenner. Richard Smuts-Steyn, Hoof Uitvoerende Beampte van Multisource, het tydens die bekendstelling van die prys gesę dat vernuwing in kommunikasietegnologie deurlopend plaasvind. “Ons glo dat hierdie amateurradioprojek die bedryf as geheel sal bevoordeel deurdat radioamateurs se entoesiasme vir nuwe tegnologieë ander sal beϊnvloed.”

Kry gerus meer inligting by www.amateurradio.org.za.

SARL SE NASIONALE KONVENSIE BIED BAIE

Die SARL se Nasionale Konvensie word 23 tot 25 April in Port Elizabeth gehou. Dit sal die tweede geleentheid wees dat die konvensie deur die President van die IARU Streek 1 bygewoon word. Hans Blondeel Timmerman, PB2T, die huidige President, sal tydens die jaarlikse Toekenningsdinee optree en die Algemene Jaarvergadering bywoon. Mnr Blondeel word vergesel van ’n Uitvoerende Komiteelid, Nikola Percin, 9A5W.

Benewens die dinee en die AJV sal afgevaardigdes kan deelneem aan verskeie ander aktiwiteite. Die gewilde “Leer hoe om ’n PIC mikro-beheerder binne 4 uur te programmeer” word aangebied en besprekings daarvoor kan nou gedoen word deur die RTA-bladsye op die SARL-webblad by www.sarl.org.za te besoek. Microchip bemark ook die kursus aan die algemene publiek, teen tariewe veel hoër as waarteen SARL-lede dit verkry. Lede word aangemoedig om sommer gou te bespreek.

Op Saterdagmiddag sal ’n spesiale forum vir DXers en kompeteerders aangebied word. Verskeie toere insluitend ’n besoek aan ’n wildpark is gereël. Bespreek nou by www.sarl.org.za.

ZS10WCS VANUIT DIE NOORD-KAAP

Die Noord-Kaap Amateurradioklub bedien die Węreld Beker Sokker spesiale geleentheidstasie, ZS10WCS, vir die maand van April. Luister uit vir die stasie en werk hulle.

Die Sandton en Wesrand ARKs word bedank vir hulle bediening van die stasie gedurende Maart 2010.

WĘRELD AMATEURRADIODAG

Węreld Amateurradiodag sal op Sondag 18 April gevier word, die tema vir 2010 is ”Amateurradio: Die kombinering van kommunikasieondervinding met moderne digitale tegnieke.” Daardie Saterdag kan ’n groot geleentheid vir klubs wees om amateurradio aan die publiek te demonstreer by ’n plek soos ’n winkelsentrum

Die Herfs QRP-naelloop vind in die namiddag van 18 April plaas.

KLUBNUUS

Die Ope Dag van die Antieke Draadloosvereniging vind plaas op Saterdag 10 April 2010 vanaf 10:00 by die Randse Lughawe TAC. Benewens ’n tentoonstelling van antieke draadloostoerusting, sal ’n snuffelmark ook gehou word. Daar is ’n restaurant en kontantkroeg vir innerlike versterking. Die dophou van aankoms en vertrek van vliegtuie dra verder by tot ’n genotvolle gesinsuitstappie.

Snuffelmarktafels kan bekom word deur Andy, ZS6ADY, te skakel by 082 448 4368.

Tydens hul algemene jaarvergadering op 27 Maart 2010 is die volgende lede van die Overbergse Amateurradioklub tot die bestuur verkies:

Voorsitter: Andre Meintjes, ZS1AZ
Ondervoorsitter: Sam Mcleary, ZS1OR
Tesourier: Judy Gardener, ZS1JEG
Sekretaris: Lindsey Magnus, ZS1LGM
Tegnies: Len van Riell, ZS1LEN

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds laag is. Sonvlekke 1 057 en 1 059 sorg dat HF opwindend bly alhoewel hulle oor die algemeen maar onaktiewe sonvlekke is. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling vir die week sal tussen 15 en 20 wees.

20 en 15 m is die beste keuses vir DX. Gedurende die middae gaan die toestande na Indië goed wees. Gedurende die laatmiddag en saans gaan toestande na Europa goed wees. Kontakte met Australië gaan uitdagend wees. Kontakte met die VSA begin uitdagend word.

Smiddags en vroegaand gaan toestande op 15 en 20 m na Brasilië goed wees.

17 m is ook smiddags oop na verskeie gebiede regoor die węreld. Die meeste aktiwiteit is op Vrydagmiddae en natuurlik oor die naweke. 10 m begin ook tekens van lewe toon.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate lewer. 20 m is baie bruikbaar gedurende die dag en goeie kontakte kan oor die langer afstande gemaak word.

Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

10 April: Ope Dag, Antieke Draadloosvereniging
17 April: SA AMSAT-ruimtesimposium 2010.
18 April - Węreld Amateurradiodag
18 April - Herfs QRP-naelloop in die namiddag
23-25 April: SARL se Nasionale Konvensie, Port Elizabeth.
7 Mei: Sluitingsdatum vir stadium 2 van konstruksiekompetisie.
30 September – Sluitingsdatum vir inskrywings vir SAARDT se projek: “Innovasie in Amateurradio.”

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars deur te stuur. Stuur dit indien moontlik in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International wat om 10:00 SAT op 145,750 in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 570 kHz, let op die verandering vanaf 17 860 kHz. Daar is ook ’n potgooi-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op "ARMI" en volg die skakels. ’n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na ’n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Leon, ZS4V, saamgestel en deur Hester van der Walt geredigeer is.

Dankie dat u saamgeluister het.
/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003